Skole gou verplig oor inheemse tale
2012-01-27 09:06
Kaapstad – Verpligte onderrig in ’n inheemse taal is vir alle Suid-Afrikaanse skole op pad.
Die departement van basiese onderwys het Donderdag aan Die Burger gesê hy stel ’n beleid op wat skole sal dwing om ’n bykomende inheemse taal aan te bied.
“Ons is in oorleg met belanghebbendes en hoop om die beleid van volgende jaar af in skole toe te pas,” het Panyaza Lesufi, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, gesê.
Skoolonderrig in ’n inheemse taal is die afgelope week onder die soeklig nadat die Sunday Times berig het dat skole geneig is om Afrikaans, eerder as Xhosa of Zoeloe, as ’n bykomende taal in die grondslagfase aan te bied.
Die Cape Times het Donderdag berig skole meen daar is te min tyd in die nuwe kurrikulum om ’n derde inheemse taal aan te bied.
Leerders word van gr. 1 tot gr.3 in ’n moedertaal onderrig met ’n eerste bykomende taal. Van gr.4 af is die taal van onderrig Engels of Afrikaans, met ’n bykomende taal.
Volgens Lesufi sal dié beleid bepaal dat die bykomende taal ’n Suid-Afrikaanse inheemse taal moet wees.
Tot dusver is aangevoer daar is ’n gebrek aan hulpbronne en onderwysers om Xhosa of Zoeloe aan te bied.
Volgens Lesufi is die doel van die nuwe beleid om sosiale integrasie en veeltaligheid in die land te bevorder. Hy het bygevoeg dit sal bydra om aan alle Suid-Afrikaners ’n mate van identiteit te gee.
“Dit moenie nodig wees dat daar altyd tolke teenwoordig moet wees sodat landburgers mekaar kan verstaan nie.”
Engels en Afrikaans sal egter steeds die taal van onderrig bly.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger