Skok, woede ná tiener se verkragting
2013-02-07 08:23
Kaapstad – Die gemeenskap van die klein dorpie Bredasdorp is tot in sy fondamente geruk ná die moord en verkragting van 'n tienermeisie, berig Eyewitness News.
Anene Booysen van Bredasdorp wat verkrag, aangerand en vir dood gelaat is, het die naam van een van haar aanvallers genoem voor sy in die hospitaal gesterf het. Die man, Jonathan Davids (22), is Saterdag in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Bredasdorp-landdroshof op aanklagte van verkragting en moord verskyn. Die saak teen hom is tot Dinsdag uitgestel.
Die polisie is op soek na nog drie mans.
Booysen is wreedaardig aangeval en het baie ernstige beserings opgedoen.
“Sy het ’n groot deel van haar ingewande verloor. Dis ook hoekom sy nie oorleef het nie,” het 'n dokter aan Die Burger gesê.
Zeldie Jooste, 'n inwoner van Bredasdorp, het gesê die gemeenskap is geskok en kwaad.
"Dit is 'n groot skok vir die gemeenskap dat iets so wreed kan gebeur in 'n dorpie waar ons kinders saans rondstap."
Jooste het verder gesê sy is bekommerd om haar dogter saans laat uit die huis te laat gaan.
"Jy dink dit is 'n veilige dorp omdat dit so klein is, dan gebeur iets so wreed met 'n onskuldige meisie wat op pad was na 'n partytjie."
Intussen het Albert Fritz, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, tieners gevra om versigtig te wees wanneer hulle saans uitgaan.
Hy het gesê hy is ontsteld oor die aanval op Anene.
"Ons wil jong mans en vroue vra om hulle nie 03:00 in die oggend in situasies te bevind waar hulle hulself in gevaar stel nie. Ons sê nie mense kan nie 03:00 rondstap nie, maar dié tye is baie anders en baie moeilik. Maak asseblief seker dat julle veilig is en met mense wat julle kan vertrou en julle nie sal seermaak nie."
– Volg Nuus24 op Twitter