Skok-video wys hoe polisie man martel
2013-02-28 09:54
Johannesburg – Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die dood van 'n Mosambiekse man wat na bewering deur die polisie in Daveyton, oos van Johannesburg, gemartel is.
Die ondersoek volg ná 'n berig deur die Daily Sun oor beeldmateriaal wat wys hoe 'n taxibestuurder agter aan 'n polisievangwa vasgemaak word en deur 'n straat gesleep word.
Reggy Moalusi, adjunkredakteur van die Daily Sun, het op die eNCA-kanaal verduidelik dat die voorval begin het toe 'n taxibestuurder aan die verkeerde kant van 'n straat geparkeer het.
"Die man het aan die verkeerde kant van die straat parkeer en hierdie twee polisiebeamptes was op patrollie, en hulle het sy taxi gesien.
"Hy het natuurlik probeer om passasiers op te tel.
"Toe die polisie hom genader het, het 'n bakleiery tussen hom en die beamptes begin," het Moalusi verduidelik.
Hy het beweer dat die man deur die straat gesleep is. Die slagoffer is later die aand dood weens kopbeserings.
"Opod het gister 'n verklaring uitgereik waarin hulle sê hulle ondersoek die dood van die man, maar wat hulle nie sê nie... is dat die polisie die man deur die strate gesleep het.
"Hy is ongeveer 500 m ver gesleep."
Die beeldmateriaal wys hoe die man agter aan 'n polisievangwa vasgemaak word. 'n Groot groep omstanders hou die gebeure dop, en neem dit met selfone af. Die voertuig begin dan ry.
Moses Dlamini, woordvoerder vir die Opod, het bevestig dat die saak ondersoek word.
"Ons het die beeldmateriaal gesien, maar het nog nie die bron daarvan opgespoor nie. Ons wil graag 'n verklaring van die persoon afneem. Die oorsprong van die beeldmateriaal moet bevestig word as ons dit in die hof wil gebruik.
"Die polisie het met 'n geregtelike doodsondersoek begin, en die verslag wat ons van hulle ontvang het, verskil heeltemal van die verklarings wat ons kry van lede van die gemeenskap wat die gebeure gesien het," het Dlamini gesê.
"Ons het daardie geregtelike doodsondersoek verander na 'n moordsaak."
Hy het gesê die beeldmateriaal het ondersoekbeamptes geskok.
"Ons is self geskok. Ons sien baie gevalle van polisiewreedheid maar hierdie is 'n skokkende geval. Wat ook verskriklik is, is dat die polisielede blykbaar nie omgee dat daar omstanders is wat hulle dophou nie."
– Kyk die video hier. [WAARSKUWING: Ontstellende beeldmateriaal]
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24