Skok oor seks langs skoolsaal en naakfoto
2010-10-24 11:40
’n Stomende “bloufliek” en ’n eksplisiete foto wat onder meer in twee
van die Helderberg se spog-hoërskole versprei is, maak opslae in dié
geweste.
In die vier minute lange video het twee leerlinge van
die Hoërskool Hottentots-Holland (HHH) – ’n gr. 8-seun en ’n gr.
10-meisie – stomende seks langs die skoolsaal. Dit terwyl ’n prefek hul
gekafoefel met sy selfoon afneem. Hy wou glo dié “bewysstuk” aan die
skoolhoof verskaf.
Op die video kan duidelik gehoor word hoe die prefek (sy gesig is duidelik sigbaar) en ’n medeleerling die paartjie bekruip.
Dié
video het glo ook by skole op die Kaapse Vlakte opgeduik. Eddie
Labuschagne, HHH se waarnemende hoof, het die saak by die
onderwysdepartement aangemeld.
Die twee leerlinge is geskors en die seun wat die video geneem het, is sy prefekskap kwyt.
Donald Grant, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het die leerlinge se gedrag skerp veroordeel.
Paddy Atwell, onderwyswoordvoerder, het gesê die afgelope vyf jaar is
slegs één saak aangemeld waarin videomateriaal ernstige wangedrag van ’n
seksuele aard toon.
Daarby is agt leerlinge die afgelope twee jaar weens seksuele wangedrag geskors.
By
die Hoërskool Gordon, 2 km verder, is ’n eksplisiete naakfoto van ’n
gr. 10- leerling onder leerlinge versprei. Die meisie het dit glo aan ’n
gr. 12-seun gestuur.
Volgens Bernard Simons, Gordon se
hoof, is die ouers van albei leerlinge ingeroep en ’n verslag aan die
Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gegee.
Die meisie is na ’n maatskaplike werker en sielkundige verwys.
Prof.
Lou-Marie Kruger, ’n Stellenbosse sielkundige, meen die polisiëring van
tienerseksualiteit net deur streng reëls is nutteloos.
Kruger het gesê as jong mense seks wil beoefen, gaan hulle dit doen – en net só optree dat hulle nie uitgevang word nie.
Volgens
Kruger werk die “polisiëring” van tienerseksualiteit as ’n eksterne
soort beheermaatreël beslis nie. Dit is dalk ook wat die prefek gedink
het hy moet doen (asof dit ’n spoedoortreding is en hy lê dit met die
versteekte kamera vas).
Kruger het gesê die prefek se optrede,
hoewel voyeuristies, strook daarby met hoe baie ouers en skole
seksualiteit probeer beheer.
Sy het gesê skole en ouers moet, as
enigste oplossing, ’n kultuur van verantwoordbaarheid skep waarin jong
mense verantwoordelikheid vir hul eie seksualiteit en besluite daaroor
neem en respek vir hul liggaam en dié van ander ontwikkel.
“Hierdie
respek is afwesig as jy in die openbaar seks het en jouself en ander
mense in die verleentheid bring én as jy foto’s versprei van mense wat
seks het.”
- Rapport