Skok ná dokter se dood
2010-01-26 05:51
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) is geskok na die nuus dat ‘n Johannesburgse dokter wreed deur misdadigers vermoor is.
“Ons is bekommerd oor die feit dat kriminele steeds burgers van die land terroriseer, ten spyte van die regering se pogings om dit stop te sit. Die kriminele bly steeds ongestraf,” het dr. Norman Mabasa, voorsitter van SAMV, Maandag gesê.
Dr. Jacobus van Staden (55) was ‘n lid van SAMV en ‘n dokter in Kempton Park. Hy is Vrydagaand in sy huis doodgeskiet.
“Suid-Afrika kan nie bekostig om enige lede van sy mediese professie te verloor nie. Veral nie as hulle spesifiek gekies het om in die land agter te bly nie,” het Mabasa gesê.
–Sapa