Skok ná bekende omgewingsbewaarder se vlammedood
2012-07-28 20:54
Johannesburg – Die bekende omgewingsbewaarder Rita Miljo, wat 'n rehabilitasiesentrum vir bobbejane bestuur het, is dood in 'n brand wat die grootste deel van die sentrum wat sy gebou het, in puin gelê het.
Sy was 81 jaar oud.
Miljo is Vrydag dood in die klein woonstel waar sy gewoon het bo die Sentrum vir Diererehabilitasie en Onderrig in die Limpopo-provinsie, het Karl Pierce, 'n direkteur van die sentrum, gesê.
Bobby, die eerste bobbejaan wat sy in 1980 gered het en gerehabiliteer het, is ook in die brand dood.
Twee ander bobbejane wat in die woonstel by haar was, is ook in die brand dood, het Pierce gesê.
Die brand het Vrydag omstreeks 20:00 uitgebreek ná vrywilligers en werknemers die sentrum verlaat het. Niemand anders is in die brand beseer nie, maar die kliniek, kantore en 'n huis op die eiendom is in puin gelê.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Hoewel Miljo nie meer die sentrum, wat na 400 bobbejane omsien, se bedrywighede bestuur het nie, was sy steeds betrokke by sekere aktiwiteite.
"Almal is nog steeds in skok hieroor," het Pierce gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA