'Skobbejakke' dalk agter ANC-herrie
2011-03-24 09:06
Kaapstad - Magte binne die ANC-faksies in die Wes-Kaap het dalk ’n aandeel in die herrie wat Dinsdag by die party se hoofkantoor in die middestad losgebars het.
Só meen ontleders wat gister die situasie bespreek het. Dít terwyl die DA in sy mou lag en in ’n verklaring gesê het die ANC voer ’n oorlog met homself.
ANC-lede van nagenoeg 19 takke in die provinsie, meestal in die metropool, het Dinsdag hul ontevredenheid met lysprosesse en die kies van kandidate gewys deur die kantore te beset en provinsiale ANC-leiers as gyselaars aan te hou.
Gister het twee gewapende polisiebeamptes en twee ANC-personeellede voor ’n traliehek by die provinsiale hoofkantoor wag gehou. Mense wat by die gebou wou ingaan, moes eers deur die partybeamptes geïdentifiseer word.
Songezo Mjongile, provinsiale sekretaris, het die besetting bestempel as die optrede van “skobbejakke wat mense vir ’n opstand teen die provinsiale leierskorps mobiliseer. Hulle buit mense se kommer oor die kandidaatverkiesings uit. Hulle maak asof dit geldige kwessies is wat geopper word, maar dit is eintlik ’n aanval op die integriteit van die ANC.”
Volgens hom is daar nie noodwendig ’n faksie nie, maar niks kon per abuis gebeur het nie. “Dit is goed beplan. Die mense het met busse, luidsprekers en plakkate gekom en hulle het kos gekry. Hulle was georganiseerd.”
Aubrey Matshiqi, ’n politieke ontleder van die Sentrum vir Beleidstudies, het gesê faksiepolitiek ten opsigte van die gebeure kan nie uitgesluit word nie. Maar “die party is nou die slagoffer van sy eie pogings om die lysprosesse te demokratiseer”, het hy gesê. Volgens Matshiqi is dit dié verwagtinge waarop faksies kan kapitaliseer.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger