Skietdood: Verdagte aangekeer
2010-08-24 06:47
Bloemfontein – ’n Voormalige vennoot van die bekende Bloemfonteinse ontwikkelaar Don Butler is gisteroggend in verband met sy moord in die stad in hegtenis geneem.
’n Hoëprofielspan, wat uit lede van die Valke en speurders van die polisiediens in Heidedal bestaan, het gister die verdagte in hegtenis geneem. Volksblad verneem die verdagte is nie self ’n konstruksiewerker nie, maar het voorheen saam met Butler aan ’n projek gewerk.
Die span het gisteroggend by ’n huis in die Chris Hani-plakkerskamp, in Bloemfontein toegeslaan en die 49-jarige man in hegtenis geneem.
Lt.kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê beslag is ook op ’n 9 mm-pistool gelê. Sy sê die vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur.
Mbambo sê die verdagte is in aanhouding en gaan na verwagting môre op ’n aanklag van moord in die hof verskyn.
Butler (55), eienaar van Jota Konstruksie en die Bloemgate-winkelkompleks naby die Universiteit van die Vrystaat, is Vrydagoggend voor RADM Construction se gebou in Ooseinde, in die stad, doodgeskiet. Hy was ’n direkteur van dié maatskappy.
Butler is geskiet waar hy besig was om die deur van die gebou oop te sluit. Hy het vier skietwonde aan sy lyf gehad. Die polisie sê die motief vir die moord is onbekend.
Die polisie het glo vroeg in die ondersoek roof as ’n motief uitgesluit, omdat daar volgens ingeligtes nie enige goedere van die toneel gebuit is nie. Butler is in die Bloemfontein-Medi-Clinic dood verklaar.
’n Hartseer Erna Butler het gister gesê sy is baie bly om te hoor van die inhegtenisneming. Sy sê haar man was ’n goeie pa en eggenoot en die gemis sal groot wees.
“Die kerse brand in my huis en dit lyk soos ’n blomtuin, want hy het diep spore in baie mense se harte getrap. Don Butler was ’n wonderlike en goddelike man.”
Butler sê sy kon nog nie begrafnisreëlings tref nie. Die familie wag nog dat die lykskouing afgehandel word, aangesien dit ’n moordsaak is.
Baie dienste deur die staat is die afgelope week tot stilstand geruk weens staatsamptenare se landwye staking.
Dries Nel van NBA Studio-argitekte, sê hulle het op verskeie projekte saam met Butler gewerk.
“Ek kan net goeie dinge van hom sê. Hy was ’n goeie kontrakteur met goeie menseverhoudinge.”
Nel sê Butler het veral altyd probeer om ’n moeilike situasie op die beste manier te hanteer.
Butler en sy vrou was sowat vier maande gelede in die nuus met die hofverskyning van ’n vermeende reeksinbreker wat hom in die linkerhand en op die krop van sy maag geskiet het. Die voorval het op 1 Maart 2008 net ná 03:00 in hul spoghuis in Heuwelsig in die stad plaasgevind.
Mev. Butler het in die Vrystaatse hooggeregshof getuig niks is in die voorval gesteel nie.
Butler sou volgende week, op 29 Augustus, 56 geword het. Hy word ook deur drie dogters oorleef.
- Volksblad