Skiet om die bliksems dood te skiet – Mbalula
2009-08-10 08:08
LIESL PEYPER
Kaapstad – “Ons moet skiet om die bliksems dood te skiet!”
Met dié woorde het die adjunkminister van polisie, Fikile Mbalula, Saterdag seker gemaak hy het die aandag van die gehoor by ’n toekenningsplegtigheid vir uitblinkers in die polisie. Hy was die hoofspreker.
Die topbestuur in die polisiediens, diplomatieke afgevaardigdes en parlementslede het die glansgeleentheid in Pinelands bygewoon.
’n Begeesterde Mbalula het gesê: “Ons het oorlog verklaar! Ons gaan misdadigers wat die lewens van ons mense bedreig, skiet om hulle dood te skiet.”
Mbalula se uitlatings het sterk herinner aan dié van sy voorganger, Susan Shabangu, voormalige adjunkminister van veiligheid en sekuriteit.
Shabangu, tans minister van mynwese, het in April verlede jaar ’n herrie ontketen toe sy per geleentheid gesê het polisielede moet skiet om dood te skiet.
In sy toespraak het Mbalula dit duidelik gemaak dat die regering moeg is daarvoor dat polisielede in die loop van hul pligte doodgemaak word. “Genoeg!” het hy onder dawerende applous gesê.
Volgens hom het die Suid-Afrikaanse strafregstelsel soos dit tans daar uitsien, hoofsaaklik ten doel om misdadigers te herwin. “Vandag word ’n misdadiger gearresteer en môre loop hy weer in die strate rond asof niks gebeur het nie.”
Hy het gesê polisiemanne en -vroue lê ’n eed af dat hulle hul lewe vir hul land sal gee, maar die wet laat hulle in die steek.
Mbalula is voorts luid toegejuig toe hy verklaar dat polisielede hulle nie oor artikel 49 (die sogenaamde hardloop-en-skiet-wet wat in 2002 herroep is) moet kwel nie.
“Jy kan nie bang wees dat misdadigers jou gaan skiet en dan mag jy nie doodskiet nie. Ons sal artikel 49 verander!”
Hy het ook gerugte dat daar spanning en onmin in die ministerie van polisie bestaan, probeer besweer.
Eyewitness News het verlede week berig daar was groot spanning tussen Nathi Mthethwa, minister van polisie, en Mbalula. Die rede was glo dat Mbalula, eerder as Mthethwa, na ’n voorstellingsparade in Philippi uitgenooi is.
“Dié wat gerugte versprei dat daar ’n geveg tussen my en Nathi was, verbeel hulle dinge. Hulle skep fiksie – nie eens wetenskapsfiksie nie,” het Mbalula gesê.
“Nathi, Fikile en Bheki is hier om te bly,” het hy gesê met verwysing na die nuutaangestelde polisiehoof, komm. Bheki Cele.
-Die Burger