'Skiet die boer': Malema appelleer
2011-12-06 16:40
Bloemfontein – Julius Malema, geskorste leier van die ANC-Jeugliga, het Dinsdag appèl aangeteken by die Appèlhof teen ‘n beslissing in die hof dat hy skuldig was aan haatspraak.
Die Hooggeregshof in Johannesburg het hom in September skuldig bevind nadat die Burgerregtegroep Afriforum hom aangekla het vir die sing van die liedjie ‘Skiet die boer’.
Regter Colin Lamont het verlof tot appèl aan Malema toegestaan.
Lamont het gesê die liedjie se woorde ondermyn die waardigheid van mense en is diskriminerend en skadelik.
“Geen regverdiging bestaan wat toelaat dat die woorde gesing word nie... die woorde is in elk geval nie op ‘n regverdigbare geleentheid gesing nie.”
Volgens Lamont was dit nie relevant of die woorde nie aan sekere mense in die samelewing blootgestel is nie.
“As dit aan ‘n gedeelte van die samelewing blootgestel word, is dit relevant.”
‘n Beampte van die Appèlhof het gesê die kwessie sal na verwagting teen September 2012 op die rol wees.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA