‘Skiet die Boere’ gesing om menseregte te vier
2010-03-23 06:40
Mafikeng - Julius Malema, ANC-jeugleier, het Maandag sy toespraak voor sowat 2 000 mense hier begin met die “Skiet die Boere”-strydlied.
Malema, wat onder luide toejuiging in ’n gemeenskapsaal gepraat het om Menseregtedag te vier, het gesê die jeugliga sal dié soort strydliedjies sing om hulle te herinner aan “wat ons mense deurgegaan het” by Sharpeville.
“Terwyl ons (Menseregtedag) vier, sal ons die liedjies sing wat ons mense daardie tyd gesing het.”
Volgens Malema het oudpres. Nelson Mandela om politieke vryheid geveg, maar die stryd om ekonomiese mag moet nou geveg word.
“Die ekonomie is steeds in die hande van wit mans. Ons wil wit vroue ook bevry, want hulle is uitgesluit uit die ekonomiese mag. Ons veg nie teen wit vroue nie.”
Malema het verder gesê hul wit eweknieë moet transformeer en aanvaar dat die ANC “vir die volgende honderde jare” aan die bewind gaan wees.
Dié jeugleier het weer skerp teen die media uitgevaar en gesê die media sal nie die ANC-jeugliga onderkry nie. “Wit Boere-joernaliste ken nie die ANC nie. Joernaliste weet niks van die vryheidstryd nie. Hulle skryf nie wat ons sê nie. Hulle luister nie.”
Hy het verder gesê swart joernaliste skryf nie hul eie berigte nie, maar redakteurs skryf ander inligting onder hul name.
Volgens Malema beteken menseregte mense moet behuising en gratis gehalte-opvoeding ontvang.
Malema se ondersteuners het ook hard hande geklap toe hy weer gesê het die myne moet genasionaliseer word. Hy het bygevoeg die inwoners van Noordwes moet die platinum wat in Rustenburg ontgin word, besit.
Hy het die skare voorts gewaarsku om nie individue binne die ANC aan te hang nie, maar die organisasie as geheel.
“Al is daar probleme in die ANC, bly deel van die ANC. Dié ANC sal nooit doodgaan nie.”
Malema wou nie die media ná sy toespraak te woord staan nie en het vinnig in sy sport-nutsvoertuig vertrek.
Vincent Moaga, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), het gesê sedert Malema dié lied verlede week by die Universiteit van Johannesburg gesing het, het hulle 109 klagtes ontvang.
Hy het gesê AfriForum het ’n klag by die gelykheidshof oor dié lied ingedien en die SAMRK mag nie kommentaar lewer voor die hofverrigting afgehandel is nie.
- Die Burger