Skiet-boer se saak na streekhof
2009-09-10 13:44
Brits - 'n Boer van Noordwes wat glo vier mense geskiet het wat hy gedink het lemoene steel, se saak is na die streekhof verwys.
Dawie Swart het Donderdag in die Brits-landdroshof op vier aanklagte van poging tot moord verskyn.
Sy saak is na die streekhof verwys en hy sal op 26 November in dié hof verskyn.
Swart het glo op 14 Junie op sy plaas in Klipkop op Joseph Ntwayagae (26), Tebogo Tabane (13), Leonard Nkadimang (19) en Thabo Tabane(15) geskiet omdat hy gedink het hulle steel lemoene.
Die vier mans het van 'n sokkerwedstryd gekom en was op pad na 'n winkel op Swart se plaas toe hy hullegeskiet het.
Thabo Tabana is onder sy linkeroog geskiet, Ntwayagae is in die linkerskouer gewond, Nkadimang is op sy linkerhand geskiet en Tebogo Tabane is in sy linkerdy getref.
Swart (55) was in 'n groen hemp en swart broek geklee en het die agterste uitgang van die hof gebruik.
Sy borgtog van R7000 is tot 26 November verleng.
– Sapa