Skelm boekhoudster gevonnis oor geld
2011-02-09 09:03
Bloemfontein - ’n Boekhoudster wat die ontvanger in Bloemfontein by drie verskillende geleenthede ingeloop het, is in die Bloemfonteinse streekhof tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis. Sy moet ook die meer as R81 000 wat sy vir haarself gevat het, terugbetaal.
Bridgette Johnson (27), wat nou op Aliwal-Noord woon, het skuld op aanklagte van oortreding van die BTW-wet, inkomstebelastingwet en wet op werkloosheidsversekeringsfonds voor streeklanddros M. Daya beken.
As deel van haar vonnis moet sy ook 576 ure gemeenskapsdiens doen en die geld wat sy gevat het binne vyf jaar terugbetaal.
Op 22 April 2008 het sy die syfers in die BTW-opgawe van die beslote korporasie Zuko Lwakhe Konstruksie só verander dat hy net R2 870 aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) moes betaal, pleks van die R51 010 wat Zuko Lwakhe in werklikheid moes betaal het. Die SAID het dus R48 140 skade gely.
Van Maart 2007 tot Junie 2008 het sy versuim om R81 157 van Zuko Lwakhe aan werknemersbelasting en bydraes tot die werkloosheidsversekeringsfonds aan die SAID in Bloemfontein oor te betaal. Die geld is deur Zuko Lwakhe aan haar oorbetaal.
Sy sê in haar pleitverduideliking die BTW-geld van R48 140 is nooit aan haar oorbetaal nie en Zuko Lwakhe skuld dit dus nog aan die ontvanger.
Adv. Cobus Buys het in opdrag van Paul de Lange van Vermaak en Dennis-prokureurs vir Johnson opgetree. Annelie van Wyk van die gespesialiseerde handelmisdaadeenheid het aangekla.
- Volksblad