Skare daag op by 'Modimolle-monster' se hofverskyning
2012-01-13 09:45
Modimolle – Die ANC se vroueliga (ANCWL) het Vrydagoggend liedere buite die Modimolle-landdroshof voor Johan Kotzé se eerste hofverskyning gesing.
Kotzé (50) word daarvan beskuldig dat hy drie werkers met ‘n vuurwapen gedreig het om sy vervreemde vrou te verkrag. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die vrou se tienerseun doodgeskiet het.
Hy is Vrydag met 'n wit motor na die hof gebring.
"Hoekom steek julle hom weg? Ons wil hom sien," het 'n man geskree toe die nuus van Kotzé se aankoms versprei.
"Senzeni na? Senzeni na? (Wat het ons gedoen?),” het die vroue buite die hof gesing. Hulle het ook plakkate vasgehou wat daarop aandring dat Kotzé borgtog geweier moet word.
"Geen borgtog, geen genade vir die monster,” het een van die plakkate gelees.
Joy Matshoge, ‘n tesourier van die ANCWL, sê die liga is woedend oor Kotzé se beweerde dade.
“Ons is baie kwaad. Ons doen ‘n beroep op die hof om hom borgtog te weier,” het sy gesê.
“Geweld het geen kleur of ras nie. Ons is hier om die vrou te ondersteun.”
Matshoge sê die ANCWL is ook kwaad dat Kotzé arm, werklose mans misbruik het deur hulle werksgeleenthede aan te bied en later gedwing het om sy vrou aan te val.
“Hy is ‘n duiwel,” het sy gesê.
‘n Massiewe soektog na Kotzé is van stapel gestuur nadat hy op 4 Januarie ná die beweerde aanval in ‘n Toyota Fortuner op die vlug geslaan het.
Kotzé is Woensdagmiddag in Modimolle in hegtenis geneem nadat ‘n plaaslike vrou hom herken en die polisie in kennis gestel het.
Een van die werkers, wat daarvan beskuldig is dat hy die vervreemde vrou aangeval het, is dieselfde dag in Makapanstad naby Hammankraal, noord van Pretoria, aangekeer.
Die 42-jarige man sal ook Vrydag in die hof verskyn.
Die ander twee mans is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA