Skandaal bring Zuma nie van stryk
2010-06-06 22:02
Pretoria – President Jacob Zuma is nie besig om slapelose nagte te hê oor mediaberigte rondom sy private lewe nie, het hy Sondag in Pretoria aan joernaliste gesê.
“Ons differensiëer tussen persoonlike sake en sake van die land,” het hy gesê.
Volgens mediaberigte het een van Zuma se vroue ‘n verhouding gehad met haar lyfwag en is hy die pa van haar ongebore kind. Die lyfwag het selfmoord gepleeg.
Die presidensie het Vrydag ‘n verklaring uitgereik wat die media daarvan beskuldig dat hulle Zuma en sy gesin se reg tot privaatheid en menswaardigheid ondermyn.
Tydens die kort vraag-en-antwoord-sessie by ‘n Wêreldbeker-mediakonferensie, het Zuma gesê hy wil graag sien dat oud-president Nelson Mandela die Wêreldbeker-sokkertoernooi bywoon.
Zuma het gesê dit hang nie van hom af of Mandela die feestelikhede gaan bywoon nie. Hy het gesê Mandela het baie oud geword, maar is ook baie passievol oor die spele.
- SAPA