Situasie in De Doorns gemonitor
2012-11-14 11:55
Kaapstad – Geen geweld is oornag in De Doorns aangemeld nie, het die polisie in die Wes-Kaap Woensdagoggend gesê.
"Die situasie is kalm en word deur die polisie gemonitor," het Lindikhaya Mkhontwana, woordvoerder van die De Doorns-polisiekantoor, gesê.
Mkhontwana het gesê verskeie werkers is Dinsdag in hegtenis geneem.
Plaaswerkers betoog sedert verlede week oor lone en werkstoestande.
Werkers wat sowat R70 verdien, eis R150 per dag.
Die N1 is tydens die geweld, waarin wingerde aan die brand gesteek en klippe gegooi is, vir verkeer gesluit. Die hoofweg was Woensdagoggend oopgestel vir verkeer.
Attwell Nazo en Katishi Masemola van die Food and Allied Workers' Union sal later plaaswerkers in De Doorns en Ceres toespreek.
Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het die gebied Dinsdag besoek en gesê sy sal hul griewe aan Mildred Oliphant, minister van arbeid, oordra. Joemat-Pettersson het werkers gevra om terug te keer werk toe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA