Sisulu vra vir 'skoon regering' in 2013
2012-12-30 15:00
Johannesburg – Die nuwe jaar bied ‘n nuwe geleentheid om ‘n skoon regering te bou wat verantwoordbaar is aan die mense, het Lindiwe Sisulu, minister van staatsdiens en administrasie, Sondag gesê.
“Om ‘n mens se land te dien is die grootste voorreg. Hierdie voorreg berus op diegene in openbare dienslewering,” het sy in ‘n boodskap aan staatsamptenare gesê.
“Dit is ‘n verantwoordelikheid wat ons nie met teensin nie, maar met entoesiasme aangryp. Ná 18 jaar van ‘n demokratiese regering is ons mense se geduld met swak dienslewering besig om uit te loop.
“Maar hulle het nie opgegee nie. Die wydverspreide betogings is ‘n uitdrukking van frustrasie, net soos dit ‘n aanduiding is van hul geloof in die regering.”
Sy het alle staatsamptenare bedank vir hul harde werk in 2012.
“Ons het ‘n merkwaardige jaar gehad, wat gelei het tot ‘n loonooreenkoms, onderskryf deur alle vakbonde in die openbare sektor en ondersteun deur alle staatsamptenare."
Sy het bygevoeg dat drie regeringsdepartemente – die departement van binnelandse sake, gesondheid en verdediging – goeie vordering gemaak het in die doel om toegang tot en dienste aan almal te bied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA