Simelane 'voldoen nie aan vereistes'
2009-11-26 15:56
Johannesburg – Menzi Simelane se aanstelling as die nasionale direkteur van vervolging wys op ‘n “verontagsaming van die grondwet en die wet”, het Pierre de Vos, grondwetkenner, gesê.
“Dit is die donkerste en mees skandalige dag in president Jacob Zuma se kort ampsbekleding,” het hy Donderdag in sy blog Constitutionally Speaking gesê.
De Vos beklee ‘n professoraat in grondwetlike bestuur by die Universiteit van Kaapstad.
Hy het gesê dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se grondwet vereis dat die direkteur ‘n “gepaste en behoorlike persoon moet wees, in pas met sy of haar ondervinding, pligsgetrouheid en integriteit.”
“President Zuma het onwettig opgetree, aangesien Simelane nie aan al die vereistes van die werk voldoen nie,” het hy gesê.
Hy het gesê dat die Ginwala-ondersoek getoon het dat Simelane in sy vorige pos as direkteur-generaal ’n brief geskryf het vir sy minister oor die saak van die vorige polisiehoof Jackie Selebi wat in Ginwala se woorde “gelykstaande is aan inmenging met die onafhanklikheid van die NVG.”
Volgens De Vos is Simelane se siening van die NVG dat dit instruksies moet kry van die minister van justisie en die president, selfs wanneer besluite gemaak moet word oor individuele kwessies.
Simelane se aanstelling is Woensdag deur die presidensie bekend gemaak en het baie negatiewe kommentaar van opposisiepartye ontvang.
- Sapa