Simelane stel baie streng mediabeleid in by NVG
2010-01-21 14:20
Fanie van Rooyen
Johannesburg - Die omstrede nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), adv. Menzi Simelane, het sy eerste stempel op die nasionale vervolgingsgesag (NVG) afgedruk deur ’n veel strenger mediabeleid in werking te stel.
Ingevolgens dié nuwe beleid, wat Die Burger onder oë gehad het, mag slegs die NVG se direkteure van openbare vervolging op medianavrae reageer.
As enige inligting vanuit die NVG aan die media gelek word sonder die nodige toestemming, sal die betrokke area se DOV aanspreeklik gehou word.
Aanklaers mag voorts glad nie meer sonder uitdruklike toestemming van ’n DOV met die media oor hul betrokke sake praat nie.
Bulelwa Makeke, woordvoerder van die NVG, het by navraag gesê die nuwe mediabeleid is as ’n interne dokument versprei en dat eksterne navrae daaroor “nie in orde is nie”.
Makeke het by verdere navraag gesê die NVG sal aanhou om medianavrae oor sake wat in openbare belang is “tydelik en korrek” te beantwoord.
“Ons is een van die mees toeganklike instellings teenoor die media juis omdat ons besef die werk van die NVG is in die openbare belang,” het Makeke gesê. “Dit is ons verantwoordelikheid om te verseker die korrekte inligting word op verantwoordelike wyse aan die media oorgedra en ons sal voortgaan om dit te doen.”
Die Algemene Balieraad het in Desember ’n amptelike ondersoek gelas na Simelane se bevoegdheid om as advokaat te dien.
Dít volg in die lig van bevindings wat die Ginwala-kommissie vroeër oor sy geloofwaardigheid gemaak het.
Die Ginwala-kommissie het vroeër ondersoek gedoen na adv. Vusi Pikoli se geskiktheid om as hoof van die NVG te dien.
In die Ginwala-kommissie se verslag is bevind verskeie aantygings wat Simelane, toe die direkteur-generaal van justisie, teen Pikoli gemaak het, was ongegrond.
Daar is voorts bevind Simelane het homself magte toegeëien wat hy nie gehad het nie en dat sy gedrag “hoogs ongewoon” en sy houding teenoor Pikoli “arrogant en neerhalend” was.
Simelane is in kruisondervraging gedwing om van sy stellings teen Pikoli terug te trek.
Helen Zille, DA-leier, het vroeër gesê pres. Jacob Zuma kon nie ’n swakker aanstelling gemaak het as Simelane nie.
- Die Burger