Simelane se adjunk gevang vir dronkbestuur
2011-06-28 09:48
Johannesburg – Silas Ramaite, een van vier adjunkte onder die direkteur van openbare vervolging, Menzi Simelane, sal na verwagting in Augustus in die hof verskyn nadat hy onder die invloed van drank bestuur het, het die polisie in Limpopo Dinsdag gesê.
Ramaite is Vrydag, 10 Junie naby Louis Trichardt in hegtenis geneem nadat hy glo met sy Jaguar teen ‘n bakkie gebots het, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
“Niemand is beseer nie, maar die plaaslike polisie kon sien hy is dronk en hy is in hegtenis geneem. Geen asemtoets is gedoen nie, maar hulle kon fisies sien dat hy dronk is, want hy het skeef geloop.”
Hy het die aand in die tronk deurgebring en het Saterdag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn, waar hy op R1 000 borgtog vrygelaat is.
Bloedmonsters is geneem en sal getoets word.
“Ons verwag om dit terug te kry voordat hy weer in die hof verskyn,” het Mulaudadzi gesê.
Ramaite was alleen in sy motor ten tyde van die ongeluk. Die bestuurder van die bakkie was nie onder die invloed van drank nie en het geen beserings opgedoen nie.
The Star het Maandag berig dat Ramaite steeds in diens was, ten spyte van die aanklag teen hom.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het aan die koerant bevestig dat Ramaite steeds in diens is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA