Simelane moet self betaal, meen DA
2012-01-03 09:46
Kaapstad – Adv. Menzi Simelane, nasionale direkteur van openbare vervolging, moet self sy regskoste betaal as hy teen die appèlhof se uitspraak oor die grondwetlikheid van sy aanstelling wil appelleer, meen die DA.
Kragtens die Grondwet moet die grondwethof enige ander hofuitspraak wat ’n presidensiële ampsdaad ongrondwetlik bevind, eers bekragtig voordat dit geldig is.
Die appèlhof het bevind Simelane se aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolgings was onwettig en ongrondwetlik. Die grondwethof moet die uitspraak nou bekragtig of afwys.
James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het gister gesê Simelane is in sy persoonlike hoedanigheid ’n respondent in die saak, nie in sy ampshoedanigheid nie.
“Die hofstukke wat die DA van Simelane ontvang het rakende sy appèl is opgestel deur die staatsprokureur, wat impliseer die staat betaal die regskoste,” sê Selfe.
Die DA meen Simelane kan, soos enige Suid-Afrikaner, teen ’n hofbeslissing appelleer – en self daarvoor betaal. Buitendien het pres. Jacob Zuma aangedui dat hy die appèlhof se uitspraak aanvaar. Volgens Selfe beteken dit dat die president iemand anders in die pos gaan aanstel.
Tlali Tlali, woordvoerder van die departement van justisie, het per SMS laat weet dat die departement van justisie nie Simelane se regskoste dra nie.
Daarna het hy geweier om die kwessie verder toe te lig en alle verdere navrae na Simelane verwys.
Simelane is met spesiale verlof en het nie sy selfoon geantwoord nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad