Simelane moet glo Hofmeyr uitwerk
2011-07-20 09:06
Kaapstad. – Spanning en wantroue tussen adv. Menzi Simelane en Willie Hofmeyr het breekpunt bereik en gaan op ’n vergadering met die minister van justisie op die spits gedryf word.
Tlali Tlali, woordvoerder van die minister, Jeff Radebe, het Dinsdag bevestig die vergadering is belê om te verhinder dat dié onenigheid die nasionale vervolgingsgesag (NVG) skade aandoen of sy werk ontspoor.
Simelane, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), en Hofmeyr, hoof van die NVG se batebeslagleggingseenheid, het nog nooit langs een vuur gesit nie. Hulle was haaks nadat Simelane begin het om die NVG se spesialiseenhede te herstruktureer.
Die spanning het toegeneem ná onthullings dat die Valke, die polisie se elite-ondersoekeenheid, nog ’n korrupsieklag teen Hofmeyr ondersoek.
Die eerste klag hou verband met die beweerde oortreding van verkrygingsprosedures en is reeds by die NDOV vir besluitneming. Die tweede hou verband met ’n pleitooreenkoms wat die NVG in 2009 met die omstrede sakeman Dave King sou sluit.
King, wat van belastingontduiking aangekla is, het Dinsdag in ’n ope brief aangevoer Hofmeyr het sy mag misbruik deur te eis dat King óf R200 miljoen aan die batebeslagleggingseenheid betaal óf skuld beken op ernstige aanklagte van bedrog – wat die eenheid dan in staat sou stel om op sy bates beslag te lê.
King het Dinsdag aan Beeld gesê die voorval was in Junie 2009, maar die polisie het hom eers ses weke gelede om dokumentêre bewyse en beëdigde verklarings gevra.
“Ek was geskok toe Hofmeyr dié eis aan my stel. Toe ek dit weier, het die pleitooreenkoms deur die mat geval. Ek besef dis ernstige aantygings, maar ek is op rekord daaroor, laat hy dit ontken. Hy weet hy kan nie.”
Hofmeyr het gister volgehou hy het niks verkeerds gedoen nie en dat ’n senior advokaat met hom saamstem daar is geen meriete in King se klag nie.
“Deel van die werk om ernstige misdaad en korrupsie te ondersoek is my blootstelling aan onregverdige persoonlike aanvalle en pogings om my te diskrediteer,” het Hofmeyr gesê. Hy het die Valke se ondersoek verwelkom.
Daar is Dinsdaguit verskeie bronne verneem dat politieke druk om van Hofmeyr ontslae te raak, toeneem namate die batebeslagleggingseenheid en die spesiale ondersoekeenheid – waarvan hy ook hoof is – hooggeplaastes betrek.
Na wat uit die NVG verneem word, is Simelane die een wat die taak gekry het om Hofmeyr te neutraliseer. Die uitkoms van sekere ondersoeke kan glo invloedryke politici se loopbane knou en dít moet verhinder word, het ’n senior gesagsfiguur verduidelik.
Volgens hom is dit vir amptenare duidelik die NVG word ook gebruik as terrein om ANC-faksiegevegte te besleg. “Hofmeyr kom uit die ANC, maar hy kan ’n ANC-slagoffer word.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld