Simelane dalk deur Hofmeyr vervang
2011-12-02 11:00
Johannesburg – Gerugte doen die ronde by die nasionale vervolgingsgesag dat Willie Hofmeyr by Menzi Simelane, wat herontplooi sal word, kan oorneem.
'n Seniorbron in die ANC het gesê daar is aan hom gesê Hofmeyr sal by Simelane oorneem. Terwyl almal fokus op die omstredenheid oor sy aanstelling, sal pres. Jacob Zuma mense onkant betrap en die aankondiging maak. 'n Prominente advokaat het gesê hy is ook daarvan in kennis gestel.
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het gelag toe hy oor die spekulasie gevra is.
"Ek gaan nie kommentaar lewer oor spekulasie wat nie op feite gebaseer is nie."
Maharaj het gesê die presidensie sal die Simelane-uitspraak noukeurig bestudeer voor hy reageer.
Mthunzi Mhaga, Simelane se woordvoerder, het gesê Simelane gaan nie kommentaar lewer nie en dat alle navrae aan die presidensie gerig moet word.
Zuma het Dinsdag aangekondig dat Willem Heath as hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sal oorneem. Hy het gesê Heath is aangestel om die "druk" op Hofmeyr, ’n adjunk-nasionale direkteur van openbare vervolging en die hoof van die SOE en die nasionale vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid is, te verminder.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter