Simelane-besluite ongeldig
2011-12-01 15:02
Kaapstad – Alle besluite wat Menzi Simelane as hoof van openbare vervolging geneem het, is ongeldig nadat sy aanstelling ter syde gestel is, het prof. Pierre de Vos, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, gesê.
"Alle besluite wat hy geneem het is nou ongeldig," het De Vos gesê.
"Dit hou verband met besluite om te vervolg en besluite om nie te vervolg nie asook kwessies soos die ondersoek na die wapentransaksie."
De Vos het gesê meeste besluite wat deur die nasionale vervolgingsgesag geneem is oor om voort te gaan met kriminele aanklagte sou deur staatsaanklaers of adjunk-direkteure van openbare vervolging geneem word.
In die gevalle waar Simelane die verantwoordelikheid op homself geneem het, kan die gevolge nou dramaties wees.
Die uitspraak beteken dat Simelane sy pos, selfs hangende 'n appèl, moet ontruim en die presidensie 'n waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging moet aanstel, het De Vos gesê.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, en Simelane kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA