Sigbare polisiëring het geslaag, meen Cele
2010-01-12 09:40
Sarel van der Walt
Pretoria – Die afgelope feestyd het opnuut gewys sigbare polisiëring bly die beste manier om misdaad hok te slaan, het komm. Bheki Cele, polisiehoof, gister gesê.
Hy het op ’n mediakonferensie van die Nasionale Persklub hier gesê hy glo die polisie het in dié tyd baie misdaad voorkom deur meer sigbaar te wees.
Sowat 90 000 polisielede het in dié tyd aan spesiale polisie-operasies in onder meer Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaap deelgeneem.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het op dieselfde mediakonferensie gesê voorlopige verslae uit die onderskeie provinsies dui daarop dat die polisie in die feestyd baie suksesvol was in die bekamping van misdaad.
Daar was in dié tyd ’n “beduidende” afname in onder meer transito-rooftogte, gewapende roof en rooftogte by huise, sakeondernemings en winkelsentrums.
Roof met verswarende omstandighede en voertuigdiefstal het ook skerp afgeneem vergeleke met die vorige jaar, het Mthethwa gesê.
“Dit is duidelik die boodskap dat die polisie misdaad aggressief sal beveg, het deurgesyfer na die hartelose skobbejakke.
“Daar was egter, soos verwag is, weer geharde misdadigers wat die polisie se waarskuwings verontagsaam het en nou óf in die tronk óf dood is,” het die minister gesê.
Hy sê die polisie se sukses is nie bloot geluk nie.
Dit is toe te skryf aan deeglike beplanning, doeltreffende strategieë, goeie inligting en goeie samewerking en vennootskappe met die publiek.
Die terugvoer wat die polisie van onder meer die sakewêreld, die gemeenskap, die media en gemeenskapspolisieforums ontvang het, was positief.
“As daar misdadigers is wat dink dié soort optrede was beperk tot die feestyd, het ek slegte nuus vir hulle. Dit sal voortgaan,” het Mthethwa gesê.
Cele het gesê Mthethwa het ingestem dat die getal polisierekrute verminder word om dit moontlik te maak om meer polisielede vir verdere opleiding na die polisiekollege terug te stuur.
Die polisiehoof het gesê hy was verlede week in Zimbabwe waar ’n toename in die getal oorgrensbank- en transito-rooftogte bespeur is nadat dié land die Amerikaanse dollar en die Suid-Afrikaanse rand as geldeenhede begin gebruik het.
In 2004 was daar net twee sulke voorvalle. Verlede jaar was daar 11.
- Volksblad