Sigarette, dagga op Kaapstad-lughawe gekonfiskeer
2011-11-08 17:41
Johannesburg – Vier kilogram dagga met ‘n beraamde straatwaarde van sowat R350 000 is by die Kaapstad Internasionale Lughawe gevind, het die polisie in die Wes-Kaap Dinsdag gesê.
Die polisie het op ‘n wenk gereageer en het die dagga en R6 600 kontant in ‘n tas gevind wat Sondag op ‘n bus agtergelaat is, het kapt. Frederick van Wyk gesê.
In ‘n aparte voorval is onwettige sigarette met ‘n geskatte straatwaarde van meer as R500 000 Saterdag ook by dié lughawe gekonfiskeer.
Die polisie het op ‘n wenk gereageer en het die vrag, wat van Johannesburg na Kaapstad gestuur is, rondom 15:00 gevind, het kapt. Van Wyk gesê.
‘n Totaal van 1 477 kartondose en 280 pakkies sigarette is gekonfiskeer.
Van Wyk het gesê twee mans van Kameroen, wat onderskeidelik 31 en 40 jaar oud is, is in hegtenis geneem en sal in die Bellville-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA