‘Siesa, Kuli!’ sê Kaapse bruin vroue
2011-03-06 07:12
’n Paar bruin vroue in die Kaap wil graag die TV-aanbieder Kuli Roberts ’n les of twee leer.
Roberts het die bevrydingstryd, veral van vroue, geknou, sê hulle.
Die aanbieder van die vermaaklikheidsprogram Headline op DStv het verlede Sondag in ’n rubriek in Sunday World onder meer geskryf Kaapse bruin vroue is gewelddadig, sonder voortande, verwys altyd na jou ma se dit of dat en rook soos skoorstene.
“Sy het intussen om verskoning gevra en haar rubriek is geskrap, maar wat het sy geleer? Sy weet duidelik niks van ons pynlike geskiedenis nie. Van nasiebou. Waar is haar deernis met die sogenaamde ander? Wat sy geskryf het, is onverskoonbaar.
“Sarah Baartman draai in haar graf om, sy wat self onder dié soort stereotipering gely het,” sê Diana Ferrus, ’n digter en aktivis wat op die Kaapse Vlakte gemeenskappe bemagtig deur die geskiedenis met woord en lied oor te dra. Ferrus is bekend om haar gedig wat in die Franse wetboeke ingeskryf is en gesorg het dat die oorskot van Sarah Baartman na Suid-Afrika teruggebring word.
Lyrice Trussell, ’n vakadviseur in die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê ook sý wil Roberts sit maak en in die “skool sit” oor wat stereotipering aan die psige van mense doen.
“Haar rubriek was neerhalend, rassisties en seksisties, nie snaaks of selfs satiries nie. En dít nogal op die rug van Jimmy Manyi en sy rassistiese uitsprake oor die oortolligheid van bruin mense in die Kaap.”
Roberts het in haar rubriek geskryf bruin vroue is “die toekoms” omdat “so baie van die meisies aanteel asof Allan Boesak hulle opdrag gegee het om die bruin bevolking soveel moontlik te vermeerder”.
Trussell sê sy kan haar teen stereotipering en rassisme verweer, maar wat van Suid-Afrikaners wat nog meer ontmagtig word deur sulke uitlatings?
“Nog nooit is bruin mense so bedreig soos nou nie. Die gevaar is dat Roberts en Manyi die vooroordele van miljoene ander verwoord. Vandaar die sprake van ’n hersiene gelykheidswet wat Kaapse bruin mense erg kan knou.”
Bernedette Muthien, direkteur van Engender – ’n organisasie wat onder meer navorsing doen oor inheemse kennis en volkere ter bemagtiging van gemeenskappe – sê Roberts moet opgevoed word, want uit afdanking is niks te leer nie.
“Dis ironies dat die nasate van vryheidsvegters nou die openbare diskoers beheer in die taal van arrogansie en onkunde.
“Mense soos Manyi en Roberts – eintlik alle Suid-Afrikaners – moet opgevoed word oor ons geskiedenis sodat ons ons rassisme kan teenwerk. Dalk het hulle nou ’n geleentheid geskep vir ’n broodnodige debat oor ons rassisme.”
En Trussell wonder: “Dalk toevallig dat verskuilde rassisme enkele maande voor die verkiesing aan die lig kom? En ’n minderheidsgroep nog verder marginaliseer? Die regering beter wakker skrik.”
- Rapport