Sielsieke slaan seun glo dood
2010-05-19 17:03
Johannesburg – ‘n Vierjarige seun is na bewering Woensdag doodgeslaan deur sy sielsieke buurman, wat daarna deur ‘n skare mense aangerand is, het die polisie in Mpumalanga gesê.
Volgens sers. Nonhlanhla Kgosana, polisiewoordvoerder, het die polisie die verdagte omstreeks 10:00 in die Thenbalethu-informele nedersetting in hegtenis geneem.
Na bewering was die seuntjie en sy tannie (35) op pad om besoek aan sy ouma af te lê. Die seuntjie het glo agter sy tannie geloop en toe omgedraai en teruggekeer huis toe sonder dat sy tannie besef het.
“Kort daarna het die bure gehoor hoe die seuntjie skree en het ondersoek ingestel. Met hulle aankoms by die verdagte se huis, het hulle die vierjarige seuntjie op die vloer gevind. Die verdagte was glo besig om hom met ‘n knopkierie oor die kop te slaan,” het Kgosana gesê.
“Lede van die gemeenskap het die seun probeer help en die verdagte met klippe bestook. Hulle het hom glo ook begin slaan.”
Die seun is na die plaaslike kliniek geneem waar hy gesterf het.
Die verdagte sal Donderdag in die KwaMhlanga-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.