‘Siekte kom soos dief in die nag’
2011-05-14 06:54
Die Burger
Pretoria - “As rugbyspeler was jy die beste in die wêreld. Veg teen die siekte. ’n Lewe met betekenis is nie iets wat net gebeur nie, dit is iets wat jy skep.”
Dít was Vrydag die boodskap van bemoediging wat ’n verlamde man wat net kan kommunikeer deur ’n spesiale rekenaar met sy pupille te beheer, gister aan Joost van der Westhuizen (40) gestuur het.
Deon Nel (51) van Krugersdorp ly aan motorneuronsiekte (MNS), wat ook vandeesweek by Van der Westhuizen gediagnoseer is. Nel is ’n groot rugbyondersteuner en was gister in trane toe hy die nuus gehoor het.
“Glo in God, jou familie en vriende en moenie jou ondersteuners onderskat nie. Ek leef al drie jaar op ’n ventilator, kry buisvoeding en word tuis verpleeg en het lewenskwaliteit,” het Nel per SMS gesê.
Hy het in Desember verlede jaar vir die eerste keer in twee jaar met sy familie gekommunikeer danksy ’n peperduur rekenaartoestel wat aan die familie geskenk is.
Volgens Bernice Nel was haar man se diagnose ’n groot skok.
“Ek het gevind mense weet nie wat om vir jou te sê nie. My krag het van Bo gekom. ’n Mens moet hoop hê, al is dit vals hoop.”
Dr. Henry Kelbrick, ’n doktersvriend van Van der Westhuizen, het Vrydagmiddag gesê toetse word nog gedoen om vas te stel watter van die verskillende soorte MNS die oud-Springbok onder lede het.
“Dit is eintlik maar hare kloof. ’n Mens wil nie enige van hulle hê nie.”
Van der Westhuizen was aanvanklik erg geskok oor die diagnose, maar hy probeer nou verstaan waarteen hy moet baklei.
Daar is geen behandeling teen MNS nie en die lewensverwagting kan van so min as 14 maande tot meer as ’n dekade wissel.
Die siekte tas later die diafragma aan, waarna die persoon aan ’n ventilator gekoppel moet word om asem te haal.
“Dit kom soos ’n dief in die nag en kan enigeen enige tyd tref,” het Kelbrick gesê.
Hy het bygevoeg Van der Westhuizen sukkel met spierswakheid in sy regterarm en hy praat soms sleeptong, maar andersins funksioneer hy nog goed.
Luidens The Merck Manual is daar minstens vier verskillende soorte MNS. Sommiges ontwikkel so stadig dat die lyer oor ’n tydperk van etlike jare verswak.
Ander ontwikkel vinnig en kan daartoe lei dat hy binne enkele maande of jare sterf weens longontsteking, verstikking en asemhalingsprobleme.
Die meeste pasiënte word bloot ondersteun en dokters beveel aan dat hulle vroeg oor hul wense rakende ingrypings soos ventilators, chirurgie en medisyne kommunikeer.
Die oorsaak en simptome?
- MNS word veroorsaak deur die degenerasie van die senuwees wat die brein met spiere verbind.
- Simptome sluit in spierswakheid en -styfheid wat in die gesig of ledemate begin, ’n sleeptongspraak en slukprobleme.
- Dit raak nie die lyer se intellek nie, dus weet hy wat om hom aangaan, al kan hy later nie meer praat of beweeg nie.
- Die meeste lyers is ouer as 50, maar dit het al by jonger mense voorgekom.
- Lewensverwagting is sowat een tot vyf jaar, soms langer.
- Sterftes is dikwels weens longontsteking omdat die lyer nie behoorlik kan sluk of asemhaal nie.
Bron: MNS-vereniging van Suid-Afrika
- Die Burger