Shrien in hospitaal ná sy gesondheid verswak
2013-02-14 09:15
Londen – 'n Britse man wat in Suid-Afrika gesoek word vir die moord op sy vrou is in die hospitaal opgeneem nadat sy gesondheid "erg verswak het", het sy familie Woensdag gesê.
Shrien Dewani, wat ontken dat hy die meesterbrein is agter die moord op sy 28-jarige vrou, Anni, is by 'n psigiatriese kliniek behandel, maar is nou in 'n ander hospitaal opgeneem nadat hy borspyne ervaar het.
'n Britse hof het die 32-jarige sakeman se uitlewering tot ten minste Julie uitgestel, op grond daarvan dat hy aan erge depressie en post-traumatiese stres ly.
Dewani se familie het gesê volgens toetse het hy swak reageer op sy medikasie.
"Shrien se gesondheid het erg verswak. Hy is verlede week met erge borspyne in die hospitaal opgeneem," het die familie in 'n verklaring gesê.
"Hy het ook verhoogde vlakke van kreatien-kinase (bloed-ensiem), wat 'n aanduiding is dat hy swak reageer op die medikasie wat voorgeskryf is om sy geestestoestand te verbeter."
Anni is in November 2010 in Guguletu buite Kaapstad doodgeskiet terwyl sy en Shrien op wittebrood was.
Xolile Mngeni is in Desember tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord. Twee ander plaaslike mans wat in aanhouding is oor die voorval, het gesê Shrien het hulle betaal om Anni dood te skiet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA