Shivambu noem joernalis 'n dronkaard
2011-11-02 12:10
Johannesburg – Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC-jeugliga, het in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn nadat hy 'n joernalis 'n "dronkaard" genoem het.
The Sowetan het berig dat Shivambu Dinsdag op aanklag van naamskending in die hof verskyn het.
Kashiefa Ajam, nuusredakteur van Saturday Star, het 'n eis van R350 000 teen Shivambu ingedien, terwyl haar werkgewer, Independent Newspapers, R300 000 eis vir skade aan sy reputasie.
Die Saturday Star het in Januarie verlede jaar 'n storie op sy voorblad gehad wat sê die whiskey-verskaffer Chivas Regal het die jeugliga genader hom hul verskaffer van keuse te word.
Shivambu het toe in reaksie op dié berig gesê: "Die siek en verwarde joernalis van Saturday Star wat die storie geskryf het, het nie eers die ANCYL gebel om te hoor of die bewering die waarheid is nie.
"As daar enigiemand is wat 'n noue vennootskap met Chivas Regal het, is dit die dronkaard joernalis Kashiefa Ajam en die redaksiespan van die Saturday Star, wat baie alkohol drink en vergeet om die ANCYL te kontak wanneer leuens oor ons organisasie versprei word."
Adv. Dali Mpofu, Shivambu se regsverteenwoordiger, het Dinsdag gesê: "Joernaliste drink waarskynlik meer whiskey as politici".
Mpofu het voor regter Ratha Mokgoatlheng aangevoer dat dit ongewens vir 'n joernalis en 'n koerantgroep om 'n private persoon te dagvaar oor kwessies wat spruit uit 'n nuusberig. Hy het ook gesê dit is ongewens om private persone te dagvaar vir stellings wat in die konteks van 'n politieke debat gemaak is.
Hy het gesê Shivambu was nie bewus dat Ajam 'n Moslem is en nie drink nie.
Uitspraak in die saak is deur Mokgoatlheng voorbehou.
Die gelykheidshof ondersoek tans ’n klagte van Carien du Plessis, ’n politieke joernalis by Independent Newspapers, omdat Shivambu haar glo “dom” en “’n wit teef” in ’n SMS genoem het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA