Shivambu: 'Meeste wittes is rassiste'
2009-10-04 06:55
Mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, het Vrydag sy tirade teen Nedbank voortgesit toe hy honderde mense in die dorpie Ga-Masehlong, buite Polokwane, aangesê het om hul rekeninge by dié bank te sluit.
“Omdat Caster (Semenya) van dié provinsie af kom, moet julle die eerstes wees om jul banksake by Nedbank weg te vat.
“Omdat ons arm is en nie baie geld het nie, moet ons sommer na die OTM toe gaan, ons geld tot die laaste sent onttrek en die bankkaarte net daar los,” het Malema volgens City Press, Rapport se susterskoerant, gesê.
Hy was in dié dorpie om “praktiese ondersteuning” aan Semenya se familie te gee en het belowe om sélf Nedbank-kliënte te werf vir enige ander bank wat Atletiek Suid-Afrika (ASA) sal borg.
Nedbank, ASA se grootste padwedloopborg, het sy borgskap van vyf jaar beëindig ’n jaar voordat dit sou verstryk. Dié besluit is hoofsaaklik te wyte aan ASA se hantering van die Semenya-sage.
Die bank het egter ook daarop gewys dat hy al ’n geruime tyd ontevrede is met ASA se dienslewering by onder meer die Nedbank Matha-padwedloopreeks.
Mnr. Greg Harwood, Nedbank se woordvoerder, wou nie gister kommentaar lewer op Malema se uitlatings nie.
Malema het Donderdag gesê: “Ons sal hul ware agenda blootlê: Nedbank is ontevrede omdat drie Afrikane medaljes gewen het. Hulle kan onttrek, maar ons sal hulle ’n les leer, want ons is hul kliënte.”
Vrydag het hy weer die raskaart uitgehaal en gesê Nedbank het onttrek omdat Semenya van “’n ander ras is”.
- Ook mnr. Floyd Shivambu, die jeugliga se woordvoerder, het Vrydag herhaaldelik aan Rapport gesê: “Die meerderheid wit mense is rassiste. Die meerderheid wittes steun nie Afrika-vooruitgang nie. Hulle vier nie ’n oorwinning as dit nie ’n oorwinning van wit mense is nie.”
- Rapport het Vrydag navraag gedoen by nog borge wat op ASA se webblad as vennote aangedui word. Southern Sun en Adidas het teen druktyd nie gereageer op vrae of hulle hul ook aan ASA gaan onttrek nie.
- Rapport