Shilowa se Cope-wiele rol
2010-06-01 06:33
Johannesburg – Cope se leierstryd gaan vandeesweek in die howe voortwoed ná ’n chaotiese nasionale kongres wat die kanse op versoening tussen die strydende faksies van Mosiuoa Lekota en Mbhazima Shilowa verydel het.
Shilowa en sy bondgenote het die wiele gister aan die rol gesit om die beheer van Cope by die Lekota-kamp oor te neem.
’n Dringende aansoek is by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om te appelleer teen die hofbevel wat Saterdag aan Lekota, Cope-president, toegestaan is en die nasionale kongres verhinder het om nuwe leiers te kies.
Voorts is Lekota per e-pos opdrag gegee om hul kantore in Cope se hoofkantoorin Braamfontein, Johannesburg, binne 24 uur te ontruim nadat die afgevaardigdes die naweek ’n mosie van wantroue in hom en Phillip Dexter, kommunikasiehoof, aanvaar het.
Luidens ’n mediaverklaring van Sipho Ngwema, woordvoerder van die Shilowa-kamp, is Lekota en Dexter van hul ampte onthef en is hulle nie meer lid van Cope se nasionale komitee, die party se hoogste gesagsliggaam, nie.
Me. Charlotte Lobe, hoofsekretaris en ’n Shilowa-bondgenoot, sal binnekort ’n vergadering van die nasionale komitee byeenroep om oor Lekota en Dexter se herontplooiing te besin.
Slaag die Shilowa-kamp se appèl en die hofbevel word tersyde gestel, sal Shilowa die presidentskap by Lekota oorneem en die ander 11 senior leierposte vul met sý bondgenote wat die afgevaardigdes tydens die nasionale kongres onbestrede benoem het.
Hieronder tel Lobe (as eerste adjunkpresident) en mnre. Mluleki George (as tweede adjunkpresident) en Mvume Dandala (as hoof- sekretaris).
Intussen het die Lekota-kamp met hul regspan vergader oor hul strategie om aan die stuur van die party te bly totdat die nuwe leiers in September verkies word.
Dié kamp gaan om ’n tweede dringende hofbevel aansoek doen om al die besluite wat tydens die nasionale kongres in Irene, Centurion, geneem is, tersyde te stel.
Dit behels onder meer die mosie van wantroue wat in Lekota en Dexter aanvaar is en veranderings aan Cope se grondwet.
“Ons moet die howe dringend nader om alle besluite wat Cope se nasionale komitee en leierskorps verhinder om hul werk te doen, tersyde te stel.
Ons moet duidelikheid oor die status van die nasionale komitee en die leierskorps kry,” het Lekota gisteroggend in sy kantoor in Cope-huis gesê.
Lekota het kort ná 10:00 by Cope-huis opgedaag waar me. Deidre Carter, een van sy bondgenote in die nasionale komitee, hom ingewag het.
Niemand het hulle verhinder om by die gebou in te gaan en die grafstil kantore op die eerste verdieping te betree nie.
’n Gespanne atmosfeer het vroeër geheers oor wat gaan gebeur as Shilowa ook daar opdaag om sy pligte as waarnemende partyleier op te neem.
Van Shilowa was daar egter geen teken nie.
“Ek bly Cope se regmatige leier. Ek hoort hier,” het Lekota vir oulaas gesê voordat hy sy kantoor verlaat het om met sy regspan te vergader.
– Beeld
Volg Beeld op Twitter
- Beeld