Shilowa rol in die skuld
2010-06-28 08:16
Beeld
Kaapstad. – Mbhazima Shilowa se haas verlede maand om as Cope-leier gekroon te word het hom nie net die partyleierskap gekos nie, maar hom boonop met agterstallige hotelrekeninge van meer as R1,2 miljoen gelaat.
Dié rekeninge moes al begin vandeesmaand vereffen gewees het, maar nege City Lodge-hotelle en agt Protea-hotelle in Johannesburg, Pretoria en Midrand wag steeds op betalings van R838 090,12 en R447 838,82 onderskeidelik.
Die hotelle is gebruik om 861 afgevaardigdes, wat Cope se leierskongres verlede maand buite Pretoria bygewoon het, te huisves. Shilowa se aanwysing as tussentydse leier by dié kongres is later deur die hooggeregshof in Johannesburg nietig verklaar.
Shilowa het deposito’s by albei hotelgroepe betaal om te verseker dat sekere kongresgangers daar kon bly. Hy het egter nagelaat om die volle rekeninge te vereffen. Uitgebreide korrespondensie tussen die hotelle en die kongresorganiseerders ná die byeenkoms het op niks uitgeloop nie.
Shilowa het in ’n brief aan City Lodge onderneem om ’n 50%-deposito te betaal, wat hy nie gedoen het nie. ’n Ooreenkoms om die agterstallige bedrag op 7 Junie te betaal is ook nie nagekom nie en Clifford Ross, hoofbeampte van die hotelgroep, het op 9 Junie ’n brief aan hom geskryf om oor sy belofte navraag te doen.
Protea-hotelle het ook gesukkel om ’n antwoord oor sy skuld te kry. Vivian Laverge, wat die kongres namens Cope gereël het, moes later oop kaarte met die hotel speel en het laat weet sy het ondanks beloftes ook niks van Shilowa gehoor nie.
Die deposito’s is glo wederregtelik uit een van die party se parlementêre rekeninge betaal. Dié rekening mag ingevolge wetgewing en parlementêre regulasies slegs vir werk in kiesafdelings gebruik word, soos byvoorbeeld die instandhouding van kiesafdelingkantore.
Cope se nasionale komitee het verlede Vrydag vergader. Hoewel daar weens die gebrek aan ’n kworum steeds nie oor ’n forensiese oudit na die party se geldsake besluit kon word nie, is Shilowa (ook die party se rekenpligtige beampte in die parlement) se tekenregte hom ontneem.
’n Woordvoerder van die City Lodge-hotelgroep wou nie kommentaar lewer nie. Bryer Danny, ’n direkteur van die Protea-hotelgroep, het egter bevestig Cope skuld hulle steeds honderdduisende rande. Volgens hom is daar op ’n betalingsplan besluit waartoe Cope ingestem het.
“Ons sal maar wag en sien. As die agterstallige betalings nie gedoen word nie, sal ons die party soos enige skuldenaar hanteer.”
Phillip Dexter, woordvoerder van Cope, het gesê geen ooreenkoms is met enige hotelgroep aangegaan nie. Shilowa sal moet rekenskap gee oor hoe die deposito’s betaal is en hoe die agterstallige bedrae betaal gaan word. “Wanneer die forensiese oudit sy loop neem sal dit deeglik ondersoek word.”
Shilowa kon nie vir kommentaar bereik word nie.
- Beeld