Shilowa 'nie geraak' deur skorsing
2011-01-23 11:11
Johannesburg – Die skorsing van Mbhazima Shilowa by ‘n vergadering Saterdag het geen effek op die medestigter van Cope gehad nie, aangesien dit nie amptelik bekragtig is nie, het Shilowa se woordvoerder Sondag gesê.
“Saterdag se byeenkoms van mense was ondersteuners van Mosiuoa Lekota en dit was nie ‘n amptelike vergadering van die party nie,” het Sipho Ngwema aan Sapa gesê.
“So hulle uitsprake het niks met Cope te doen nie. Daardie is dieselfde mense wat beweer dat hulle Mbhazima verlede jaar geskors het.”
Die Shilowa-geallieerde faksie sou na verwagting later Sondag ‘n verklaring uitreik.
Lekota se woordvoerder, Philip Dexter, het gesê dat Cope sy nasionale komitee (CNC) Saterdag in Kempton Park gehou het en besluit het om Shilowa te skors.
“[Die CNC het besluit] om ‘n paar lede van alle aktiwiteite van die party te skors, hangende ‘n dissiplinêre verhoor vir diegene wat in die volgende 14 dae sal plaasvind,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Onder die aanklagte was nabootsing van leierskap, sabotering van sy nasionale verkiesingskongres, ondermyning van die party se grondwet en die misbruik van leiersposisies.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA