Shiceka skryf glo self sy luukse motor af
2011-06-18 07:37
Kaapstad - ’n Sluier van geheimhouding en ontkenning is Vrydag getrek oor die ongeluk waarin die luukse ampsmotor van mnr. Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering, afgeskryf is.
Dít terwyl Shiceka reeds sedert Februarie met siekteverlof is.
Vuyelwa Vika, sy woordvoerder, het by navraag gesê sy is glad nie bewus van enige ongeluk nie.
“Ons rekords toon dat die minister glad nie in Kaapstad was nie. Die minister is met verlof. Ek is nie bewus van enige ongeluk nie,” het sy gesê.
Vika wou nie sê waar in die land Shiceka hom bevind het ten tyde van die beweerde ongeluk nie.
Nou eis die DA dat adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), ook Shiceka se nuutste beweerde oortreding by haar ondersoeklysie na sy sake voeg.
James Lorimer, DA-woordvoerder oor koöperatiewe regering, meen ernstige vrae moet beantwoord woord oor Shiceka se betrokkenheid by die beweerde ongeluk.
“Was die minister in die motor toe dit gebots het? Was sy ampsmotor in ’n botsing betrokke? Dit is in die openbare belang dat die vrae beantwoord word.”
Mense wil weet of die minister nog geld vermors het terwyl hy moes aansterk, het Lorimer gesê.
Mail & Guardian het Vrydag berig Shiceka se ampsmotor, ’n swart Mercedes-Benz E350, is in ’n ongeluk in die Moederstad afgeskryf. Shiceka is veronderstel om op siekteverlof in die Oos-Kaap te wees. Hy het die motor, met ’n minimum prys van R671300, in 2009 aangekoop toe hy minister geword het.
Luidens dié berig het twee bronne aangedui Shiceka het die motor tydens die botsing bestuur.
Shiceka het nie ontken dat sy motor in ’n ongeluk was nie, maar geweier om kommentaar te lewer.
Die motor was vir twee weke in sy departement se motorhuis in Pretoria, maar is later verwyder.
In die berig word voorts beweer Shiceka het wel op 18 Mei sy kruisie in Kaapstad kom trek in die munisipale verkiesing.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger