Shiceka het glo onbekwame amptenaar ontplooi, beskerm
2011-04-18 07:56
Johannesburg - Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het na bewering ’n onbehoorlike verhouding met ’n onbekwame senior munisipale amptenaar gehad en haar boonop beskerm om te keer dat sy afgedank word.
Boonop was Nana Masithela, hoof- finansiële amptenaar van die Madibeng-munisipaliteit (Brits en Hartbeespoort), verlede jaar saam met Shiceka op ’n uitgebreide besoek aan België en het sy hom in Kaapstad besoek om na “sy toespraak te luister”.
Top-amptenare het aan Volksblad gesê Masithela het vertel die minister “beskerm” haar en sy is onaantasbaar omdat hy haar persoonlik “ontplooi” het.
Masithela het Volksblad genooi om Vrydag met haar oor haar verhouding met Shiceka te kom gesels. Sy het nie vir die afspraak opgedaag nie en nie daarna haar telefoon geantwoord nie.
Die minister se kantoor het Masithela (38) einde 2009 in Madibeng ontplooi, al het sy geen toepaslike ervaring in plaaslike regering gehad nie.
Volgens haar CV het sy ’n MBA, maar toe sy vir bewyse daarvoor gevra is, kon sy geen dokumente inhandig om dit te staaf nie.
Masithela het ’n salaris van byna R80 000 per maand verdien. Die Madibeng-munisipaliteit moes ook vir haar luukse woonplek betaal omdat sy “ontplooi is”.
Volksblad het briewe en dokumente wat bewys Madibeng se munisipale bestuurder en ’n administrateur – wat aangestel is om die munisipaliteit van verdere agteruitgang te red – het byna ’n jaar lank vergeefs probeer om van haar ontslae te raak.
Masithela het ’n finansiële en ’n regskonsultant etlike miljoene rande vir omsigtigheidsondersoeke by Madibeng betaal.
Shiceka se kantoor het die munisipaliteit gedwing om die konsultante aan te stel, al het Dikgape Makobe, die waarnemende munisipale bestuurder, daarteen beswaar gemaak en gesê dit is ’n vermorsing van geld.
Omstreeks April verlede jaar het Masithela vir Makobe gesê sy vergesel die minister op ’n buitelandse besoek. Sy het ’n brief van die minister se kantoor aan hom gewys wat lui hulle gaan ondersoek na inligtingstegnologie-stelsels instel.
Masithela het niks met inligtingstegnologie in Madibeng te doen gehad nie en het met haar terugkeer nie eens ’n verslag ingedien of terugvoering gegee nie.
Makobe en die administrateur van Madibeng, Eric Matlawe, is na bewering gedreig nadat hulle verslae aan die minister se kantoor gestuur het waarin hulle aangevoer het Masithela is onbevoeg en het nie die nodige ervaring nie.
Matlawe het in Augustus 2010 in ’n brief aan Shiceka gesê Masithela belemmer dienslewering en het “die munisipaliteit in groter finansiële moeilikheid gedompel”.
Yunis Carrim, adjunkminister, is toe na Madibeng gestuur om die vrede te gaan herstel. Hy het belowe om ondersoek in te stel.
Die vakbond Samwu het al vroeg in 2010 op Masithela se afdanking begin aandring.
“Sy het baie keer vir my gesê ons kan doen net wat ons wil, want sy is onaantasbaar omdat die minister haar aangestel het,” het July Khoza van Samwu gesê.
Volksblad verneem Madibeng se finansiële bestuur was einde verlede jaar in so ’n gemors dat Matlawe Masithela (met behoud van salaris) geskors het.
Sy is aangekla van growwe wangedrag, misbruik van mag, versuim om eerlik en met integriteit op te tree, versuim om haar pligte na te kom en growwe nalatigheid.
Die tugverhoor sou in Januarie plaasgevind het, maar is gestaak toe Masithela ingestem het om te bedank in ruil daarvoor dat alle klagte teen haar teruggetrek word en sy steeds betaal word.
Matlawe of Makgobe wou nie kommentaar oor hul verhouding met Masithela of Siceka of sy kantoor lewer nie.
Shiceka se kantoor het gesê die minister sal ten volle met die Openbare Beskermer saamwerk in dié se ondersoek na die bewerings teen hom.
“Jou vrae bevat ernstige aantygings waaroor ons direk met hom moet konsulteer. Ongelukkig is hy besig om van sy siekte te herstel en sodra hy gesond genoeg is, sal hy op die aantygings reageer,” het die woordvoerder gesê.
- Volksblad