Shiceka 'gretig' om terug te keer werk toe
2011-09-14 16:59
Johannesburg – Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê hy wag vir die groen lig van dokters en 'n verslag van die openbare beskermer om gefinaliseer te word voor hy terugkeer werk toe.
Shiceka is sedert Februarie weens 'n onbekende siekte op betaalde siekteverlof, te midde toenemende bewerings van bedrog en korrupsie teen hom.
Hy word daarvan beskuldig dat hy duisende rande spandeer het op hotelrekeninge, vlugte vir sy familie en 'n besoek aan Switserland – om na bewering by sy meisie in die tronk te gaan kuier.
Shiceka het gesê sy gesondheid het verbeter en dat hy Vrydag weer die dokter gaan sien.
Hy het gesê hy wag vir die openbare beskermer om 'n verslag oor die bewerings teen hom te finaliseer.
"Indien die president sê 'gaan werk môre', sal julle die eerste wees om te vra of die bewerings van korrupsie ondersoek is."
Die minister het die aanklagte teen hom ontken en sê hy is gretig om terug te keer werk toe.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter