Sharemax se topbestuurders leef in weelde
2011-11-13 09:07
Johannesburg – ’n Superluukse boot van meer as R120 miljoen, wildplase van meer as R100 miljoen en rykmanshuise is ván die weelde waarmee Sharemax se twee topbestuurders hulself omring terwyl duisende beleggers nie meer rente op hul beleggings verdien nie en waarskynlik hul geld kwyt is.
Rapport het R250 miljoen se bates opgespoor wat Willie Botha, die voormalige besturende direkteur van dié mislukte eiendomsindikaat, en sy bemarkingsdirekteur, André Brand, gesamentlik besit. Botha en Brand was bykans ’n dekade lank aan die stuur van Sharemax.
In dié tyd het sowat 40 000 beleggers, onder wie talle bejaardes, ’n geraamde R5 miljard in 50 eiendomsindikate belê.
Die Reserwebank het in Mei verlede jaar bevind Sharemax oortree die bankwet en het onwettig deposito’s van beleggers ingesamel.
Rapport kan ook onthul Wietz Nell, een van Brand se sakekennisse, het die afgelope week inkriminerende dokumentasie aan die Valke oorhandig.
Die Valke wou nie sê of hulle ’n ondersoek teen Botha en Brand begin het nie.
In dié dokumentasie, wat ook in Rapport se besit is, beskuldig Brand Botha in ’n memorandum daarvan dat hy na bewering R9 miljoen van die beleggers se rentegeld onwettig in sy sak gesteek het.
Brand beweer Botha het benewens die betaling van R9 miljoen ook glo oor ’n tydperk van vier jaar sowat R53 miljoen se “kommissie” van ’n frontmaatskappy van Sharemax ontvang.
Brand sê hy het self nie sy regmatige deel gekry nie en eis R24,5 miljoen van Botha.
Botha het die afgelope week geweier om sy e-posadres aan Rapport te verskaf om vrae te beantwoord.
Teen middernag Vrydag het hy egter ’n reaksie van ses bladsye lank gestuur en die aantyging teen hom ten sterkste ontken.
Brand sê Nell het die dokumentasie onder valse voorwendsels bekom.
Hy het nie die egtheid van die dokumente en dat hy die skrywer van die memorandum is ontken nie.
Brand sê hy het intussen alle onduidelikhede met Botha uitgeklaar en is nou tevrede Botha het dié geld regmatig verdien.
Hy sê hy trek alle aantygings teen Botha terug.
Intussen beplan ’n groep beleggers om vandeesweek ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Pretoria te bring om Sharemax bankrot te laat verklaar en Botha en Brand se bates te bevries.
Onder die bates wat die beleggers wil bevries, is Botha se luukse jag wat hy in ’n hawe in Hurghada aan die Rooi See in Egipte hou.
Die Italiaans ontwerpte Scuba Scene is glo tussen R120 en R150 miljoen werd en word deur die Willem Botha-familietrust besit.
Dié boot het sy eie webtuiste waarop dit beskryf word as “43 m se klassieke seevaart-prag en luuksheid” wat aan die verwagting van die kieskeurigste reisiger sal voldoen.
Die Scuba Scene het 13 en suite-kajuite, elk met sy eie TV en lugversorging. Die boot het ’n bemanning van 14, insluitende ’n maritieme ingenieur en ’n sjef.
Die beleggers wil die hof ook vra om Brand te verhinder om Thabo Motswere, sy wildplaas van nagenoeg 3 000 ha naby Thabazimbi in Limpopo, te verkoop.
Die plaas is vir R79 miljoen gewaardeer en daar is onder meer kameelperde, elande, gemsbokke, jagluiperds en luiperds.
Die huis op die plaas het meer as R20 miljoen gekos en het die weelde van ’n vyfsterhotel.
Brand – sy dogter is verloof aan die Springbok-senter Wynand Olivier – probeer van die plaas ontslae raak en was verlede maand bereid om dit vir R21,5 miljoen te verkoop.
Hy wou dit in kontant hê.
Botha het ’n ewe luukse en nog groter wildplaas naby Marken in Limpopo wat nog meer werd kan wees omdat hy die Groot Vyf op sy plaas aanhou.
Botha woon in ’n luukse dubbelverdieping-villa in die eksklusiewe Silver Lakes-landgoed in Pretoria.
Brand het pas ’n kontrak onderteken om sy luukse huis in Mooikloof in Pretoria vir R15 miljoen te verkoop.
Nadat die Reserwebank bevind het Sharemax het die bankwet oortree, is Botha van sy pligte “onthef” en hy het as direkteur bedank. Brand het “uitgetree”.
Sharemax is in September verlede jaar onder die Reserwebank se bestuur geplaas.
Die Reserwebank het Sharemax beveel om die beleggers terug te betaal, maar daar was nie geld daarvoor nie.
Die nuwe, sogenaamde onafhanklike bestuur van Sharemax het reeds erken dat beleggers die grootste deel van hul beleggings gaan verloor.
Die dokumentasie in Rapport se besit toon nadat Botha en Brand by Sharemax weg is, het hulle nog bykans R15 miljoen se “kommissie” verdien.
Die maatskappy wat Sharemax namens die Reserwebank bedryf, Frontier Asset Management and Investments, het nie die afgelope week op navrae gereageer nie.
’n Forensiese ouditeur, André Prakke, het die afgelope week Rapport se dokumentasie bestudeer en gesê op sigwaarde is daar aanduidings van bedrog, diefstal en geldwassery.
Prakke ondersoek en bestudeer Sharemax al jare lank en sê hy glo sowat 80% van beleggers se geld is weg.
Hy sê die kommissies waarna Brand in sy briewe aan Botha verwys, is nooit in enige van Sharemax se prospektusse verklaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport