Shaik het aansoek om kwytskelding gedoen
2010-01-13 18:40
Johannesburg – Die presidensie het bevestig dat ‘n aansoek vir ‘n presidensiële kwytskelding vanaf die veroordeelde Schabir Shaik ontvang is, het die SABC Woensdagmiddag berig.
Dié aansoek is een van meer as 300 wat pres. Jacob Zuma nog moet deurgaan.
Vincent Magwenya, Zuma se woordvoerder, het gesê die president wou nie die publiek tydens ‘n televisie onderhoud mislei, toe hy gesê het dat Shaik nie aansoek gedoen het nie.
Wat Zuma eintlik wou sê was dat hy nie kommentaar kan lewer nie aangesien hy nog nie die aansoek gesien het nie, het Magwenya gesê.
Normaalweg word individuele sake weens konfidensialiteit nie bespreek nie.
Die presidensie kan wel weens publieke belangstelling bevestig dat Shaik aansoek gedoen het.
Zuma het nog nie kans gehad om na enige van die 300 aansoeke te kyk nie.
Volgens die SABC is daar nie enige spertye verbonde aan die aansoeke nie, en kan Zuma op sy eie tyd na die aansoeke kyk.
- Sapa