Shabangu min geskeel oor Cele se skorsing
2011-10-26 11:03
Johannesburg – Die eiendomsmagnaat Roux Shabangu is min geskeel oor die skorsing van die nasionale polisiehoof, Bheki Cele, berig The New Age.
Shabangu het aan die koerant gesê hy glo pres. Jacob Zuma het gedoen wat hy gedink het reg is toe hy Cele geskors en Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, afgedank het.
"Die president bestuur sy kabinet soos hy goeddink, nes ek my besigheid bestuur soos ek goeddink."
Die sakeman hou vol dat die ooreenkomste met die departement van openbare werke en polisie was geldig.
Cele is Maandag geskors.
Adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), het bevind dat Mahlangu-Nkabinde en Cele onregmatig en onwettig opgetree het in verband met twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban. Dié kontrakte was R1,6 miljard werd.
Zuma het 'n raad van ondersoek aangestel om die bewerings van wangedrag wat verband hou met die kontrakte te ondersoek.
Shabangu het die ondersoek na die kontrakte verwelkom.
Hy hoop die ondersoek sal "lig werp" op die bewerings wat teen hom en Cele gebring is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA