Sexwale kom op vir Malema
2011-10-11 09:08
Johannesburg – Tokyo Sexwale, minister van menslike nedersettings, het gevra dat mense genadig moet wees teenoor Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, berig Dispatch Online.
"Wanneer jy jonk is begaan jy foute – ons maak jou reg en dan gaan jy weer verkeerd en ons maak jou nie reg om jou te vernietig nie. Jy kan nie 'n liga vernietig nie. So wanneer hulle verkeerd is, stel hulle net reg," het Sexwale die afgelope naweek in die Oos-Kaap gesê.
"Die jong man genaamd Malema doen soms dinge en praat baie. Hy kry soms homself in die moeilikheid. Daarna huil hy by ons om hom uit die moeilikheid te kry. Ons moet hom (Malema) nie vernietig nie. Moet hom asseblief nie weggooi nie, hulle is te jonk."
Sexwale het gesê Fikile Mbalula, minister van sport en 'n voormalige president van die ANC-jeugliga, het oor die afgelope vyf jaar in statuur gegroei.
Hy het gesê Mbalula het as jeugdige baie foute begaan, maar hulle het hom vasgevat, maar nooit vernietig nie.
Sexwale sal na verwagting in Malema se verdediging getuig by sy dissiplinêre verhoor. Malema word daarvan aangekla dat hy die ANC in oneer bring en verdeeldheid in die party saai.
Malema en sy adjunk, Floyd Shivambu, word daarvan beskuldig dat hulle die ANC se naam deur die modder gesleep het toe hulle onlangs gedreig het om die regering van Botswana omver te werp.
Die ander leiers wat aangekla word sluit in Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal; Ronald Lamola, adjunkpresident; Pule Mabe, tesourier; en Kenetswe Mosenogi, adjunk- sekretaris-generaal.
Die verhoor sal na verwagting op 15 Oktober hervat word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA