Sexwale is Malema se troefkaart
2011-10-02 07:49
Johannesburg – Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, is Julius Malema se troefkaart in sy verhoor voor die ANC se tugkomitee.
Sexwale sal na verwagting getuig oor die historiese bande tussen die ANC en Botswana.
Dít
sal waarskynlik Donderdag gebeur, wanneer die ANC-jeugleier weer voor
die komitee verskyn weens klagtes dat hy verdeling saai en die party se
naam in die gedrang bring.
“Hy gaan nie veel sê nie, maar net
getuig oor die historiese verhouding tussen die ANC en Botswana. Hy is
nie daar om enigiemand aan die kaak te stel nie. Die inligting is tot
voordeel van albei kante,” sê ’n bron.
Daarbenewens sal Sexwale
se getuienis toon dat die jeugliga histories onafhanklik opgetree het,
sy eie beleidsrigting formuleer en dat die jeugliga hom gewoonlik
daarvoor beywer dat sodanige beleid uiteindelik deur die ANC aangeneem
word.
Dié getuienis gaan nou glo gebruik word om te bewys dat
Malema niks verkeerd gedoen het nie toe hy sy organisasie se standpunt
oor Botswana gelug het. Malema se span gaan ook argumenteer dat die ANC
materiële steun aan Botswana se hoof-opposisieparty, die Botswana
National Front (BNF), verleen het.
Maar Mathews Phosa, tesourier van die ANC, het ontken dat die ANC ooit die BNF ondersteun het.
Die
jeugliga se strategie is om te bewys dat die klagtes ’n poging is om
die jeugliga te verlam en nie slegs om hulle te tug nie.
Die liga
meen ook die klagte dat hy nierassigheid ’n knou gegee het, is ongeldig
omdat pres. Jacob Zuma saam met Malema op die verhoog was en versuim
het om hom tereg te wys.
Die redenasie is Zuma moes Malema daar
en dan voor stok gekry het, toe hy gesê het wit mense moet soos
misdadigers behandel word omdat hulle grond van swart mense gesteel het.
Malema
se regsverteenwoordigers is mnre. Dali Mpofu en Patrick Mtshaulana,
terwyl Andries Nel, adjunkminister van justisie, en me. Gcina
Malindi vir die ANC sal optree.
Intussen gaan Malema na
verwagting die amptelike ontbinding van die jeugliga se leierskorps in
KwaZulu-Natal op ’n mediakonferensie aankondig.
Die leierskorps
in dié provinsie steun Zuma se herverkiesing in 2012, terwyl Malema se
faksie verkies om die ANC-leiers te vervang.
In die Wes-Kaap is daar teenstand teen Malema vanuit die bruin gemeenskap, wat sy “kru Afrika-chauvinisme” afkeur.
- Rapport