Sexwale getuig in Malema-verhoor
2011-10-05 11:24
Johannesburg – Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, het Woensdag gesê ANC-amptenare, insluitend pres. Jacob Zuma, moet daarop gewys word dat hulle dalk verkeerd was om Julius Malema aan te kla.
"Geen dissiplinêre aksie moet om politieke of persoonlike redes geneem word nie. Dit is 'n hofproses, nie 'n vervolging nie," het Sexwale gesê.
"Daar is altyd 'n moontlikheid dat die aanklaer verkeerd kan wees."
Malema en sy adjunk, Floyd Shivambu, word daarvan beskuldig dat hulle die ANC se naam deur die modder gesleep het toe hulle onlangs gedreig het om die regering van Botswana omver te werp.
Die ander leiers wat aangekla word sluit in Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal; Ronald Lamola, adjunkpresident; Pule Mabe, tesourier; en Kenetswe Mosenogi, adjunk- sekretaris-generaal.
Die ses word ook daarvan beskuldig dat hulle verdeeldheid in die ANC saai.
Sexwale het gesê hy is deur Malema gevra om in die verhoor te getuig, maar kies nie kant nie.
Daar is wyd berig dat Sexwale en ander ANC-leiers saamsweer om Zuma uit die kussings te lig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA