Sewentien hutte verwoes toe kerk brand
2010-07-19 13:11
Durban – Sewentien plakkershutte is beskadig tydens ‘n brand by die Shembe-kerk in eNanda, het die polisie in KwaZulu-Natal Maandag gesê.
“Die brand het Sondagmiddag uitgebreek. Die lede van die kerk het egter nie die voorval by die polisie aangemeld nie,” het lt. kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, gesê.
“Ons glo die brand het per ongeluk begin. Niemand is beseer nie.”
Die Shembe-kerk is besig met hul jaarlikse maandlange vergadering en het in plakkershutte op die kerk se perseel gewoon.
Hierdie kerk het in Junie vir opslae gesorg toe ‘n ooreenkoms met 'n vuvuzela-vervaardiger gesluit is, wat erken het dat een van die kerk se profete dié blaasinstrument al in 1910 geskep het.
Luidens die kerk het hul stigter, Isaiah Shembe, die instrument 'n eeu gelede gemaak met bokhorings. Dit was dan gebruik wanneer die kerkmense gebid het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA