Sewe verdagtes doodgeskiet
2010-10-09 07:44
Johannesburg – Die polisie het sewe mans wat vermoedelik op pad was om ’n transito-rooftog uit te voer, in die noorde van Limpopo doodgeskiet. Twee polisielede is in die skietgeveg gewond.
Talle koeëldoppies het tussen die vermeende transitorowers se lyke, met klapmusse en wolhandskoene aan, op die stil teerpad sowat 30km van Louis Trichardt gelê.
Lt.kol. Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het inligting oor ’n beplande transitorooftog ontvang.
Daarna het beamptes die rowers op strategiese plekke op die Elimpad, sowat 3km van die N1, ingewag. Nadat die gepantserde geldwa veilig verby polisielede op die pad gery het, het die drie voertuie – ’n Volvo, BMW en Nissan – waarvoor die polisie op die uitkyk was, daar verbygekom.
“Polisielede wou die voertuie stop toe die verdagtes skielik skote in die polisie se rigting afvuur,” het Otto gesê.
Die vermeende rowers het probeer vlug en in ’n skietery oor en weer met polisie betrokke geraak.
“Tydens die skietery het die Nissan omgerol. Twee van die verdagtes het op die pad uitgeval waarna die Nissan langs die pad tot stilstand gekom het. ’n Derde verdagte is doodgeskiet terwyl hy te voet probeer ontsnap het nadat die voertuig tot stilstand gekom het.”
Die vierde man is ook uit dié motor geslinger. Nooddiensbeamptes het hom daar behandel. “Hy is egter later met ernstige beserings na die naaste staatshospitaal geneem.”
Polisielede het die BMW sowat 1km van die Nissan af tot stilstand gedwing. Al vier insittendes is doodgeskiet.
“Ons vermoed dat nog vier rowers tydens die skietery in die Volvo ontsnap het,” het Otto gesê.
Een polisielid is tydens die skietgeveg in die been gewond en een in die arm.
Volgens Otto is vyf vuurwapens, waaronder drie R5-aanvalsgewere, ’n AK47 en ’n 9mm-pistool, teen gistermiddag op die toneel gevind.
“Daar is ook hoekslypers en gasbottels in die verdagtes se voertuie ontdek.”
Otto het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die mans berugte misdadigers met vorige veroordelings is.
Genl.maj. Christine Mgwenya, waarnemende nasionale polisiehoof, het die polisielede geloof vir hul flink optrede om dié potensiële misdadigers te stuit.
- Volksblad