Seuntjie van vermoorde ma nou in pa se sorg
2011-11-12 08:32
Pretoria – Klein Benjamin Henning (5) het gisteraand in sy pa se huis geslaap.
Benjamin is sedert sy ma, Chanelle Henning (26), se sluipmoord Dinsdagoggend in ’n plek van veiligheid terwyl onderhandelinge tussen sy pa, mnr. Nico Henning, en sy ma se ouers plaasgevind het.
Hy was vroeër in sy ma se toesig terwyl sy ouers besig was om te skei.
Jacques Fourie, ’n familievriend, het gesê Henning se ouers, Ivan Saincic en sy vrou, Sharon, het besluit om nie regstappe in te stel nie.
“Dit sal nie in Benjamin se beste belang wees as hy in dié stadium in pleegsorg bly nie,” het Fourie gesê.
Benjamin bly sedert Vrydag by sy pa.
Mev. Henning is Dinsdagoggend voor Benjamin se kleuterskool, Morning Star Montessori in Nevada-singel in Faerie Glen, in die ooste van Pretoria, doodgeskiet.
Twee mans op ’n motorfiets het haar deur haar ruit geskiet en sy is in die long getref.
Sy het in Manitobarylaan, sowat 350m van die skool af, tot stilstand gekom waar sy dood is.
Ao. Duane Lightfoot, polisiewoordvoerder, het gesê daar is nog nie enige nuwe verwikkelinge in die ondersoek na Henning se moordenaars nie.
’n Roudiens vir Henning word Maandag omstreeks 15:00 in die Doxa Deo-kerk op Hartbeespoort gehou.
Enigiemand met inligting kan kapt. Peet van der Spuy, ondersoekbeampte, by 082-565-9112 bel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld