Seuntjie (2) met sy ouers herenig
2009-09-28 07:48
Carina van Wyk
Johannesburg - ’n Tweejarige seuntjie is gister met sy ouers herenig sowat drie uur ná hy ongesiens by die hek van hul huis in Krugersdorp uitgeloop het.
Cameron Nagel (10) en Nicole Spangenberg (11) het kort ná 14:00 gaan fietsry toe hulle “’n babatjie” op die hoek van Lindhoutstraat en Lurieweg in die middel van die straat sien stap.
Hulle het hul ma’s, Mornette Nagel en Priscilla Spangenberg, gaan roep. Die vroue het die seuntjie, wat net as Stefan geïdentifiseer is, gaan haal.
“Ons het rondgery en gekyk vir hekke wat oop is. Ons het selfs by ’n paar huise aangeklop,” het Nagel gesê.
Verskeie ander inwoners het ook na die seuntjie se ouers help soek.
Stefan het die middag by sy ouma-hulle, wat op dieselfde erf as sy ouers woon, gekuier.
Almal het ’n middagslapie geniet en nie agtergekom Stefan het wakker geword en die pad gevat nie. Daar was fout met die hek en dit het per ongeluk oopgegaan.
Sy pa, wat anoniem wil bly, het na hom begin soek die oomblik toe hulle agterkom hy is weg.
“Ek was buite myself en het in my motor gespring,” het hy gesê.
Die eienaar van die Wimpy in Noordheuwel het hom in sy motor sien rondjaag en gesê sy kind is by die Nagels, omtrent drie blokke van Stefan se ouerhuis.
Volgens Nagel kon sy nie die trane keer toe sy sien hoe die pa huil toe hy sy kind kom haal nie. Stefan se pa het gister gesê hy is baie dankbaar vir die hulp.
“Enigiets kon met hom gebeur het.”
- Beeld