Seuns se lyke gevind ná hulle verdrink
2013-02-06 16:17
Johannesburg – Die lyke van twee seuns wat verdrink het terwyl hulle in die Ritavi-rivier geswem het, is naby die Nkomo B- informele nedersetting in Limpopo gevind, het die Giyani-munisipaliteit Woensdag gesê.
Inwoners het Dinsdag die seuns, wat nege en 10 jaar oud is, se lyke gevind nadat hulle Maandagmiddag verdrink het, het Steven Mavunda, ‘n woordvoerder, gesê.
“Die enigste inligting wat ons ontvang het, was dat beide van hulle in die rivier geswem het en die wyksraadslid in die gebied het die saak kort ná die voorval by ons rampbestuurspan en die polisie aangemeld.”
‘n Soektog na die lyke het Dinsdagoggend begin, want teen die tyd wat beamptes Maandag op die toneel aangekom het, was dit byna donker.
Die seuns se lyke is ‘n meter van waar hulle verdrink het gevind.
Mavunda sê 10 mense het reeds sedert Januarie in Limpopo verdrink.
“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap, veral ouers, om hul kinders aan te moedig om nie in die riviere in hul gemeenskappe te swem nie,” het Mavunda gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA