Seuns met panga aangehou, beroof
2009-11-30 07:03
Virginia Keppler
Johannesburg - Vier hoërskoolseuns van Carletonville is onderweg na ’n vleisbraai om die einde van die eksamen te vier, met ’n mes en panga aangehou en van hul fietse, selfone, horlosies en geld beroof.
Kobus van Staden (16), Quinton Pistorius, Lourie Strydom en Huey van der Walt (al drie 15) is gr.9-leerlinge aan die Hoërskool Carletonville.
Twee van hulle is só getraumatiseer dat hulle onderskeidelik met ’n klip in die sak en ’n stuk hout rondloop ingeval hulle weer aangeval word.
Die seuns is sowat drie blokke van Huey se huis, waar hulle sou braai, oorval.
“Ons het in Onyx-rylaan gery langs die bloekombome toe twee mans in die pad spring,” het Quinton vertel. “Hulle het gevra vir sigarette, maar ons het nie gehad nie. Een (rower) het my van my fiets afgeruk. Ek wou nog terugbaklei toe hy ’n mes uithaal.”
Hy het die rower wat met die mes gewapen was, se arm gegryp en agter sy rug gedraai. “Die ander ou het met sy panga nader gekom en gesê ek moet sy vriend los.”
Die rowers het Quinton van sy fiets, selfoon, R20 en horlosie beroof.
Kobus het gesê die panga-man het hom aan die arm gegryp en vasgehou. “Ek het van die fiets afgeklim en sy arm weggeslaan.”
Die rowers het hom met die panga gedreig.
“Hy het geld gevra en toe ek hom die R5,50 gee, wou hy weet wat hy daarmee kan koop.”
Hulle het Kobus ook van sy selfoon, fiets en horlosie beroof. Hy het die rowers gesmeek om sy simkaart terug te gee omdat hy sowat R300 se lugtyd daarop gehad het wat hy vir sy verjaardag op 22 November gekry het. Hulle wou nie.
Lourie se fietsketting het uitgehaak en hy kon nie verder ry nie. Huey het sy fiets neergegooi en die twee het na sy huis gehardloop, waar hulle die polisie ontbied het.
Dirk van der Walt, Huey se pa, het die omgewing gefynkam en een van die fietse, ’n BMX, in bosse gekry.
Volgens Van der Walt het die polisie geweier om na die rowers te gaan soek omdat hulle “te besig was”.
Veral Huey is omgekrap dat sy fiets gesteel is omdat hy reeds vir die Argus-fietsren volgende jaar ingeskryf het.
Die ander twee gesteelde fietse behoort aan Huey se tweelingsusters, Lize en Elana (19).
Dié drie bergfietse, ’n groen Trek-fiets, ’n blou Neshiki-fiets en ’n Blou Pacific-fiets is gesamentlik sowat R10 000 werd.
*Huey en sy pa het in Augustus ’n fietsdief met hul vierwielmotorfietse agternagesit en die gesteelde fiets teruggekry.
- Beeld